Thursday, 5 April 2012

Outoimmuun




"Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het. Jy mag naas my geen ander gode he nie."
                                                - Eksodus 20:2

In hierdie werelddeel is die somers gevul met gilgeel dae,  blou blou hemele,  soet vrugte,  helder blomme, fladder flinders en toweragtige donderstorms. Meestal kom die elektriese storms net na die somerhelderdag.  En as die wolke uitgewoed en verslaan disintegreer en die hemele los wag die stil stil donkernag,  en sing slaap maar,  slaap maar.   

Sy was een aand net daar,  in die bestek van `n sekond in die eeue van `n soen het sy my hele veilige bestaan omgedonner.  Sy was lilith, sy was eva, sy was joan of arc en ingrid jonker.  Haar hande, haar stem was die epitomie van tuin van eden.  Sy het haar lyf aan my geoffer en ek het haar, blatant aanbid.  Sy was kru en rou en breekbaar soos `n vlinder,  sy was donker en lig ineen,  sy was winter en somer,  en dag en nag…sy was die bliksemstrale in my donderstorm en tuimeldroeer in my kop. 

"Jy, fokken amazing befokte vrou van die vlakte het in `n skerf van tyd my siel vol wind geblaas tot my asem in my kniee wou snak en ek my gesig in my hande wou verdrink om die spieel in jou oe te ontvlug, ontken, onteien.  Ek wou in my kar klim en timetravel na `n tyd voor ek vergiftig is deur jou in jou swart swart klere en rou oe.  Ek wou jou tweeling word, jou gene deel, jou asem voel.  Ek wou myself tot eensellige reduseer en deel word van jou weefsel.  Ek wou saam met jou stap en jou muse herdoop, vir jou skryf tot die son opkom.  Kan `n mens so ingrypend verlief raak dat sekondes se kennismaking die weefsel van hierdie bestaan so halsoorkop opdonner en deure oopbliksem wat silikongeseel so lankal gesluit is?  Jy is die  bliksemstraal wat met stom onwetendheid alibaba en die veertig rowers word wat alle grense flenters pletter sonder om te weet hoe wankelend jy my mure los.  Ek word magteloos gedryf tot begeerte om kaal voor jou te staan en my siel te offer aan jou voete wat reeds so `n lang pad gestap het en liggies te raak aan jou hande wat so triomfantlik genees het van al jou vorige gevegte.  Nog nooit wou ek myself so graag offer, ongeag ongeag. Later is jy onwillekeurig muse as die stilte oor my sak en gedagtes aan jou lyf my verlam.  Saans betrek ek `n bar woestyn sonder die manna druppels van jou siel wat my bekers vul.  Jyt my bloed besoedel met die fyn besonderheid van jou tenger lyf en die woede in jou stem.  Het jy dan reeds die binneste van my sagte siel onwetend geskroei en `n brandmerk gelos tot ek in tydsberekening verdwaal in brokke siel en vingerafdrukke.  Die beelde van jou dompel my ver tot in `n heelal waar ek verduisterd vasgevang sit op die omgekeerde emmer, wat ek so lank terug al verlaat het.  Gedagtes klou aan my soos soet spinnerakke waarin ek hopeloos vertrengel word tot ek na my asem snak en begeer om totaal oorgegee my mens voor jou neer te le, en jou te smeek, om my net te vat. 

In skeiding honger ek na jou, woeste vrou, wat my hart kaal en rou gevat het.  Ek rou oor ek myself verbied het om ooit weer die leisels van die ongetemde perde in my borskas los te laat.  Oor ek `n verbond met my siel gesluit het, om nooit weer my hare los en vry te laat waai in die wind van onpeilbare en woordelose liefde nie.  En dat ek nooit weer sal neer val in aanbidding van nog goddelike mens op hierdie aarde nie.

Ek is kwaad,  wat die noodlot het my gefok.  Met die stommerige stameling van my stem as ek met jou praat en die styfgespande selle in die heelal van my lyf as ek myself dwing om my rug op jou te draai.  Vroeer het ek my hande flenters gekerf in dringende pogings om hierdie boorde vol vrugte te stuit om my in soetheid te versuip.  Ek het jou lief, besef ek,  lief in my verslaande hande waar jy my onkant betrap en my voete in klei laat smelt. 

Jy is rou, soos die aarde se rofste kluite in die kerns van die karoo. Jy is skurf en genuine tot ek my mond moet pers en my lippe bloedbyt om op te hou voel.  Jy breek my aardkors met blatante dinamiet en verslaan voornemens voor die voet.  Ek begeer om jou soos salomo te besing voor skares onskuldige gesigte, net om nie alleen te wees in die verdorwenheid van hierdie onbegryplike aanbidding nie.

Toe ek die toegeneendheid in jou oe en hande oor my lyf voel vloei,  het die vrees soos braaksel in my keel opgestoot.  My hart het in my ore gedonder,  en my hande het desperaat gesweet.  Ek wou omdraai en hardloop totdat daar nie meer kimme op die einders is nie,  tot by `n swart swart nag…wat ek fetaal alleen en veilig kan wees. 


Jy het op my voorstoep kom kraam,  en my eie kinders in poligamie gedompel.  Jy het die babas deur my poshokkie se gleufie gestoot,  totdat ek hulle kosbare sagte velletjies nie meer kon weestaan nie en ek jou ingelaat het.  Soggens het jy Maltabella-pap gekook in die stoof op my kombuis,  en saans pasta met sous terwyl ek die sepies kyk.  Jy was nooit net op een plek nie,  maar op tien tesame.  Jy was soms die warmste kaalvoet vlinder op my koue kombuis teels en soms die sagste donskombers in my koue  bed.
 
As die skemer mistig raak was jou maer arms `n kruis oor my hart, en soms het die kamer so bedompig geraak dat ek moes teug aan `n sigaret om al die liefde te ontvlug. 

Dae lank het ek bly wag dat die nuutjie jou sou ontgaan,  dat jy jou wit arms sou oopmaak,  en my `n asemteug sou gee.  Die gloede in my wange het egter kloppend geword,  met trane in jou wange het jy stywer en stywer begin klou aan my kombuisteels, my duvet, my sitkamer banke,  en my hart.  Ek was seker nog nooit so besig nie.  Ek kon jou gesig in die spieel sien wanneer ek na myself kyk,  en jou ruik wanneer ek my winterswessie oor my kop trek.  Jou liefde het `n storm geword vir my,  tot ek bang was vir die tas van jou vingerpunte en die brand van jou soene op my koorsige voorkop. 

Na twee weke het die twee honde nie meer uit verskillende bakke geeet nie,  daar was net een groot bak waaraan altwee gulsig gevreet het totdat hulle pense vol was.  Die kinders het vetter en vetter geword,  en gelukkig en gelukkiger.  Saans het ek van die werk af huistoe gekom,  na `n huis wat lag en gesels en jil,  en dit was nooit koud binne nie.  Ek wou hardloop, die Here alleen weet hoe ver,  wou my bene my dra in die diep donker koue alleen nag in, totdat ek vir eenmaal weer kan asemhaal. 

Snags as jou liggaam my kontoere op die matras uitspel,  kon ek die kaneel in jou sjampoe op my kussings ruik,  en het jou  oë selfs in die donker geskyn.  Ek wou jou wakker maak en my hande op jou kop sit, en vir jou skree,  'jissis ek is lief vir jou ,  jissis ek hou so baie van jou,  jissis ons lewe pas so lekker saam,  jissis ek wens ek kan jou vir altyd en altyd en altyd hou." Ek het nie.  Ek het jou wakker gemaak,  en jou vêr vêr weg gestuur,  sodat die son kon ondergaan in my huis.  My hart het te vinnig geklop,  my hande het gesweet,  terwyl jy stil stil jou goedjies ingepak,  en met jou stukkiekar uit my lewe uitgery het.  Ek wou agterna hardloop tot waar die son opkom,  ek wou vir die veld en die bosse skree,  wat ek wou he jy moet hoor,  ek wou vir jou skree hoe lief ek jou het,  en hoe pragtig jou kinders is.  Ek wou op my hurke op `n klip sit,  en huil totdat my klere nat teen my lyf kleef.  Ek wou skree en huil en skree en huil,  en net in die veld bly lê,  totdat die aasvoels my kom haal het.  

Ek het myself gehaat van daardie dag af.  As ek dink aan jou sagte mooi lyf,  die stukkend in jou oe en jou hande en jou kinders en my aandeel in jou bloed,  wou ek in my rooi kar klim en myself ter pletter jaag teen `n groot Wilgeboom,  wou ek skree en my hande stukkend slaan teen duisende glas ruite,  wou ek elke spieel denkbaar breek,  en my lyf flenters sny, daar waar jy was. 

Ek het na jou begin verlang, die gang in my huis, was stil sonder jou kinders se gejil,  my bed was kouer as ooit tevore,  die kombuis was netjies,  (net die honde het steeds uit een bak geëet).  Ek het neergeval op die kombuisteels,  met die bak in my arms,  teen my borste, in my buik.  Die honde het my deur die gesig gelek,  en die snikke het deur my bors geskeur.  Ekt jou orals begin sien,  en waar jy nie was nie,  het ek jou begin soek.  Die mis het `n seer wond in my lyf geword,  hierdie lyf wat ek tot `n stilstand wou bring.  Na `n twee weke, het my gesig daagliks bleker geword,  my hande koud en bewerig.  My huis was `n doodskis,  my bed is nooit meer opgemaak nie.   Ek kon nie meer praat nie,  ek kon nie meer luister of skryf of dink of voel nie.  Ek wou my kop teen die wit mure bly stamp totdat die seer my dood sal maak.     

Een donker uur,  in nagtyd,  het jy van jou laat hoor.  Die SMS in my hand,  het `n gat deur my vier vingers en my handpalm gebrand.  My hart het ontstuimig geklop.  Jy groet…  Ek het opgestaan uit die bed uit.  Kaalvoet,  oor die wintergrond begin stap,  in maanlose nag in. Ek het neergeval iewers op `n kop,  waar ek die jakkalse kon hoor skreeu. 

Jou oë het koud en bitter geword
Spierwit hande komponeer donker simfonieë
God verword jou eie skepping
Waar ankers jou in water gelos het ….
Jy spoel weg,
Winde waai jou   donderblitse in
                                                Na daar waar ek jou nie meer kan gaan haal nie

Ek wou nie meer skreeu nie,  ek wou nie meer slaan, en stamp, ruk en huil nie.  Ek wou net daar sit,  en staar,  vir ure  en ure,  in die koue donker en alleen.  Ek wou stil word,  soos die nag,  leweloos,  soos die klip waarop my voet rus.  My hart wou ophou pomp,  my lyf was reeds koud.  Om my, in my is niks.   

ek moet jou offer
kaalhand
teen my kamermuur
hierdie liefde
afsweer

ek moet jou weggee
aan `n naamlose god
jou vasbind aan `n klip hoop
en my hande hef

ek moet myself kasty
voortaan
om jou nie meer
lief te hê nie,
dog,
steeds te atem
ongeag die donker
die dieptes
die jylose dae
en hierdie liefde
wat
skielik
`n reuse rots
in my borskas
geword het. 

No comments:

Post a Comment