Thursday, 5 April 2012

Breaking up is hard to do...


Dit was die nag na ek jou agter gelos het,  met `n brief, `n stoompot en `n pakkie sigarette. Die nag  wat ek gedroom het van  die hond  met die lenige lyf in swart en wit hare, met haar smekende oë.  Die nag waarin ek verteer is in skuld, woordeloosheid en sukkel. 

Sy was in die pad voor ons huis, `n tweebeen skaaphond.  Ek`t haar daar gekry, waar die kar haar teen die grond vas getrap het.  Klaarblyklik was sy `n gereelde rondloper,  die dat sy net twee bene oorhad.  Haar buik het gebloei,  en sy het smekend na my omgekyk,  gevra dat ek haar nie sal los nie.  Ek hoor nog die hulpelose smeek tjanke,  sien die stukkende maer lyf,  die blou oë, amper groen. 

God alleen weet, hoe om soveel pyn te verduister,  uit te vee tot die pad voor my huis weer skoon sal wees.  Ek het met selfbeheersing in die huis ingestap,  kluis toe.  Daar was twee pistole,  die klein Brownie,  en die .22.  Ek het op die ouer, groter pistool besluit.  Die pistool was koud teen my hande terwyl ek die magesyn laai.  Ek onthou my skiet instrukteur se woorde :"cock the hammer,  safety off, first press, second press - fire." 

Ek het voordeur toe geloop.  Sy was daar.  Here help my.  Haar oë was joune.  Moenie dat ek haar kwes nie Here.  Ek het my arms gelig,  ingeasem,  en besef ek het vergeet om my kontaklense in te sit.  Daar was nie tyd nie,  die bril moes doen.  Ek het die gemik.  Gelyk met die kante reg in die middel.  Haar oë was desperaat.  Ek wou bewe,  ek wou sterf, ek wou die pistool op myself draai en net  vergeet van al die bloed. 

Ek  het weer ingeasem,  stadig uit, my asem opgehou.  First press,  second press,  die slag was onbeheerbaar magtig uit my eie hande.  Ek het `n lou sproeireën van bloed oor my gesig gevoel.

Ek kon nog mik,  ek het lont geruik.  Ek sal nooit jou oë kan vergeet nie. 

Ek het omgedraai en gaan bad.  Die water was rooi,  ek het aanhou was,  maar kon die bloed nie van my wit vel afkry nie.  Ek het gewas en gewas tot die water yskoud was,  en gehoop rigor mortis sal intree.  Ek was bang en dit het donker geraak.  Ek was alleen. 

Ek is so, so bitter jammer.    "

No comments:

Post a Comment