Friday, 13 April 2012

The First cut is the deepest - of te wel, daai eerste pessige liefdesteleurstelling.


Om te kom tussen die bene van `n vrou is verruklik, veral die heel eerste keer.  Sagte tepels wat eenword met jou lyf.  Ons verken mekaar se lywe bang.  Gryp na die Bybel vir vergifnis, dan beloof ons mekaar dit was die laaste keer. In die  van vergryp, verloor en vergeet ons keer op keer.

Haar borste is so perfek,  haar hande broos en fyn.  “As jy n ou was, was ons lankal getroud en pregnant!”  lag  sy,  drie jaar later, (kort voor als in duie stort). Sy gesels  terwyl ek bestuur.  Ons ry met die pad in die rigting van Brits, verlangs sien ek die Magaliesberge en in my hart bid ek vir `n god wat nie na die homoseksuele luister nie. 

Sy laat my staan vir `n oorgewig vent met `n blink rooi kar.  Sy stap in  my koshuiskamer in. Haar lyf styf toegedraai in `n swart leer baadjie. Sy grendel haarself letterlik weg van my. “Dis verby” se sy.  Ek kry `n benoude “nee” uit my keel gewurg.   Sy staan om te loop.  Ek gryp die bekende beminde lyf aan die baadjie gegryp en gooi haar teen my kamermuur vas.  “Jy kan dit nie doen nie,  ek glo dit nie… “ ek druk my lyf teen haar.  Sy huil,  smeek my om haar te laat gaan.  “Hy wag vir my buite in die kar, my ouers aanvaar hom”. Sy loop van my weg.   Bliksem.    

Dis `n week later, my foon lui. Sy wil woorde uit my he.  My stilte is vir haar soos dolke.  My rekenaar is my lewensmaat ,  die internet my god, bekend en veilig en beskikbaar.  Ek verloor baie gewig, van elfuur soggens af drink ek Vodka in Wyn.  Ek kan nie glo sy bel my nie.  Hoe kan sy meer van my wil hê?  Sy het my gestroop. Ek het niks om te gee nie. 

Op my rekenaar skryf ek:

“Jou bloed  vloei  uit   my polse
jy        kruisig           my     hande
     Met die spykers van jou lag
En wag  steeds op die laaste sug
Van     jou        asem  wat     by   my mond uitroep "eli eli"
Jy voer my asyn vol herinnering
beloon my met  doringkrone van verwerping
dat  jou  pyn in  my  pupille vergestalt.

Onder sweepslag van vreemdelinge
speeksel,  veragting
duisternis,
na eindelose aardbewings,

is jou  hande van  van    my    arms afgeruk
dat ek  jou nooit weer kon raak nie

 jou       longe stadig van        my         bronchiale pype geskeur
                     tot       my      asem  bevlek was met      jou     bloed
en ek vir altyd moet stil wees
     
het hulle my gekruisig -
ek  moes jou afsterf
jy het jou pond silwer geeis,
en die goewerneur het jou geprys.

                                                                                        Messias.
                                                                            judas.




Na die oproep kleur ek my hare swart en kerf my onderarms met spieelskerwe. Een pragtige donderstorm stap ek kaalvoet in die Potchefstroomse strate en soek na die dood. Ek  loop ek haar raak in `n inkompie sentrum.  Sy storm stom tot in my arms en huil vir `n halfuur my nuwe baadjie papnat.  Ek vee oor haar hare,  my binnekant bewe.  Mense stap in massas verby ons.  Ons praat nie veel nie.  “Moenie vir hom se jyt my gesien nie…”.  Hys scary. Daardie aand kry ek `n sms, hy dreig hy my met `n interdik.  Liefde het baie verskillende gesigte.  Verraad net een.

Sy vat hom na die pastorie vir die vakansie.  Soos sy gese het is haar ouers mal oor hom. Sy dink aan trou. Haar pa kan hulle trou, almal praat oor hoe pragtig dit kan wees.  My pyn is geheim.   Sy kry dit reg om weg te kom van die lesbos af, tot waar ek haar nooit weer sal kry nie.   Ses maande later kry ek `n sms van haar “hy het my gelos”. Ek bel haar, sy huil. “Ek gaan weg uit Potchefstroon, terug Durban toe, my ouers kom my more haal.”    Ek ontmoet haar iewers in die donker,  in parkie waar niemand sien nie. (Sy maak dit duidelik dat sy nie saam met my gesien wil word nie).  Ek vat vir haar `n teddiebeer. Dis toevallig haar verjaarsdag.   “Ek wil nie he mense moet ooit weet van ons nie” .  Ek voel vuil en opstandig.   Sy lê op my skoot en snik.   Ek kyk woordeloos hoe die son opkom.  “Wil jy dan huil nie?”  vra sy.  Ek skud my kop.  Sy vertel sy wil my nooit weer sien nie,  al het sy my lief.  Sy loop snikkend van my weg deur vroegoggend herfsmis sonder om te groet.  Ek sit in my kar voor die hardeware winkel en wonder of ek dood is. 

In my aardbodem waar jou inbrandings geskroei is
In hoeke wat lankal met groen gras bedek geraak het
Tussen gragte wat lankal toegegooi is
Het die aardbodem vandag weer sooibrand,
Vulcanis non - eruptus
aardkors
Vol verdwaalde geeste ,
Wat lankal moes rus
nou weer in die donker uur
kloppend, brand,  teer.

Daar waar jou voetspore geloop het
Jou sandstrepe oor my hart
Is my aarde vandag weer gekneus,
ek gekruisig op die vulkaan wat eens ons s`n was.

“Jys so sad want jyt jou lover verloor my skat” se my shrink.  Sy hou my styf vas terwyl ongeloof my verswelg.  Dit vat my maande om hierdie te glo. Skeef? 

Die verskriklikheid het jare later eers minder geword.  Een  pragtige somerdag staar ek na die gilblou hemel.  Ek ruik die jasmyn iewers in die lug.  `n Glimlag speel oor my lippe.  Meteens is dit soos kersfees.  `n Toweragtige en asemrowende besef…ek is vry.  Ek soek nie meer bedags of snags na daardie liefde wat my so eensaam gelos het nie.  Ek vrees nie meer dat ek haar iewers op kampus of  in die straat sal raakloop nie.  Ek wil  opspring in die lug en my hande hemelwaarts gooi, in die rondte draai en skree tot almal my kan hoor: "Ek is vry!" 

Uitendelik is ek weer jonk, lewendig, slim en gesond.  Die euforie is  onbeskryfbaar.  Ek skryf groot gedigte op ruwe mure skryf, en soen my pasiente se snoete.   Ek trek reënboog helder aan en huil van blydskap.  Die ondenkbare, onbetwyfelbare wete: Ek is ok. 

Later  skryf ek briewe vir almal wat my ken het as die hartseer eensame vrou.  Ek nooi die wêreld  om saam met my bly te wees. Ek gooi `n vryheidsparty en dans saam met almal wat so mooi is. Ek het helder linte in my hare en rooi lippe. Ek verander my naam  en  wil hê die wêreld moet weet: Hierdie selfsugtige eensame rou liefde waaraan ek vasgekluister was, het uiteindelik gesterf… Ek gooi haar ou briewe in die asblik, glimlag en stap weg. 

My hande sal losskeur
Uit die spykers van jou oë
ek sal die kruis van jou menswees
Met olie en vuur verwoes
 Jou doringkroon sal ek met my kaal voete
Tot stof vertrap
My lyf sal vry word,
Van die hout ding
        Waaraan jy my vasgekap het
Ek sal ontsnap,
Ses klippe voor my graf weg rol…

dan op `n berg staan,
afkyk op jou vallei
wat nou agter my lê.